Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 1 NOVEMBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750; 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons moet aankondig dat die sleutel van Alan Martins, ZS6AUH, op 10 Oktober 2009 stil geraak het. Ons betuig diepe meegevoel met sy eggenote Eunice, sy seuns en dogter, asook hul familie en vriende.

POUSE

In die nuus vandag:

SUMBANDILASAT SE BAKEN IS ONTWYKEND

OPSTELKOMPETISIE VIR LEERDERS

RADIO ZS IS IN DIE POS

OPROEP OM NOMINASIES VIR RAADSLEDE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SUMBANDILASAT SE BAKEN IS ONTWYKEND

Sedert die lansering van SumbandilaSat is die baken deur die grondstasie op Stellenbosch gehoor, maar dit blyk dat die baken weggeraak het. Dit is onseker waarom dit gebeur het. Dit kon per ongeluk gebeur het toe iemand ’n verkeerde CTCSS-toon gestuur het wat die oudio afgeskakel het. Tyd word tans geskeduleer vir die aktiveringsprogram om die oudio weer te laai.
Die toets van die verskeie ander loonvragte gaan voort. Dit word verwag dat die amateurloonvrag tussen ander toetse vir gebruik beskikbaar gestel sal word. Waar moontlik sal besonderhede op die SA AMSAT-webwerf by www.amsatsa.org.za geplaas word.
’n Integnet word vir Sondag 22 November om 19:30 SAT beplan, waartydens verskeie deelnemers genooi sal word om hulle ervarings te deel en die besonderhede van hul satellietwerking te bespreek.

OPSTELKOMPETISIE VIR LEERDERS

Het u dié inligting aan u plaaslike hoërskool oorgedra? Leerders in Graad 8 tot 12 word uitgenooi om deel te neem aan ’n opstelkompetisie ter viering van die lansering van SumbandilaSat. Die groot prys is ’n Acer Notaboekrekenaar. Daar is ook baie ander pryse om te wen, insluitend Symantec-programmatuur, asook elektroniese en radiokonstruksieboustelle. Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 30 November.
Die opstel moet tussen 1 000 en 1 500 woorde bevat oor die onderwerp "Hoe sal Suid-Afrika by ruimteprogramme baat vind?”
Leerders word aangemoedig om op die Internet navorsing te doen oor ruimteprojekte en hoe ander lande hieruit voordeel getrek het en dan in hulle eie woorde te skryf hoe Suid-Afrika baat kan vind by sy deelname aan ruimteprogramme. Volle besonderhede oor deelname is beskikbaar by www.amateurradio.org.za.

SONVLEK 1 029 OP PAD UIT

Volgens amateursterrekundige Jimmy Eubanks van Boiling Springs, Suid-Carolina, was die afgelope week ’n besonderse tyd om die son te bestudeer. “Sonvlek 1 029 het elke dag vir ’n skouspel gesorg!” Ongelukkig is die skouspel aan sy einde. Die sonvlek beweeg na die son se westelike kant en sal dan verdwyn.
"Soos Sonvlek 1 029 na die kant van die son beweeg het, blyk dié sonvlek se verskyning verkort te word," sê ruimtefotograaf en onderwyser John Stetson van Suid-Portland, Maine. “So ’n vroeë verkorting was een manier hoe Galileo kon bewys dat sonvlekke op, of naby die son se oppervlakte is.” 400 jaar gelede het sekere waarnemers gereken dat sonvlekke die skaduwees van planete of interplanetêre wolke is, "maar sulke voorwerpe behou dieselfde grootte en vorm tydens dié beweging.”
Sodra sonvlek 1 029 die kant van die son bereik, kan dit uitbars en warm plasma in die ruimte inskiet.

RADIO ZS IS IN DIE POS

Die September/Oktober-uitgawe van Radio ZS wat Vrydag gepos is, is vir lede op die SARL-webwerf beskikbaar. Sluit aan by James Durand, ZR6JBD, vir ’n besoek aan die Jan Corver-museum in Nederland. Lees meer oor die dispuut wat heers oor vertikaale teenoor horisontale antennas deur ZS6DV, asook “Unified Amateur Radio”, deur ZS6EA. Dan is daar die Hallicrafters-storie deur ZS1PR en ‘’n artikel oor RaDAR – “Rapid Deployed Amateur Radio” deur ZS6BNE. Fred Scheepers kyk na die beskerming van radio’s en Deel 2 van hoe om ’n ineengeskakelde begroting te bereken.
Indien u nognie ’n lid van die SARL is nie, en graag ’n kopie wil ontvang, stuur ‘n e-pos aan armi@sarl.org.za met ‘Radio ZS’ in die onderwerplyn.
Indien u nie u lidmaatskap hernu het nie, gaan u sonder ‘n Radio ZS wees. Om dit reg te stel, hernu onmiddellik deur Mariska te kontak by 011 675 2393, of maak ‘n elektroniese oorbetaling. Dit kos R340 vir gewone lidmaatskap.
Die redakteur van Radio ZS benodig materiaal vir die volgende uitgawe wat teen die einde van November in die pos sal wees. Stuur u bydrae per e-pos aan radiozs@sarl.org.za om die redakteur teen 9 November 2009 te bereik.

OPROEP OM NOMINASIES VIR RAADSLEDE

Tydens die AJV van die Suid-Afrikaanse Radioliga tree alle Raadslede uit en moet ‘n nuwe Raad verkies word. Dienende raadslede mag herkies word indien hulle genomineer word. Nominasies word nou ingewag en sluit op 30 November 2009.
Nominasies moet skriftelik aan die Sekretaris ingedien word en moet onderteken word deur ’n Voorsteller en Sekondant, wat beide opbetaalde lede van die SARL moet wees. Die dokument moet die volle naam, roepsein en adres van die kandidaat verskaf asook ’n verklaring deur die kandidaat dat hy of sy gewillig is om op die Raad te dien. ’n Uiteensetting met besonderhede van hul spesifieke kwalifikasies, vermoëns en lidmaatskap van enige verwante amateurradio-organisasies van die kandidaat moet ook verstrek word. Slegs opbetaalde SARL-lede mag genomineer word.
Nominasies moet die Sekretaris nie later nie as 30 November bereik en mag gefaks word aan 088 011 675 2793; of getekende dokumente mag geskandeer word en per e-pos gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

AMATEUR RADIO MIRROR SE FREKWENSIE VERANDER

Verlede week het die 16 meterband se frekwensie vir die Sondagoggend-uitsending van Amateur Radio Mirror International verander na 17 860 kHz. Opvangsverslae word verwelkom en kan gestuur word aan armi@sarl.org.za

KOMPETISIENUUS

Die tweede been van die SARL HF-velddag word oor die naweek van 21 en 22 November gehou met foon- en GG-aktiwiteit op 10 tot 160 meter. Stasies kan deelneem as ‘n enkeloperateur of multioperateurveldstasie of as ‘n algemene stasie. Meer besonderhede is beskikbaar in die 2009 SARL-kompetisiehandboek.

Slegs ses logstate is vir die Herfs QRP-wedtryd ontvang. Die uitslae is:

1 Watt klas:

1ste Jan Botha, ZS4JAN, 16 380 punte;
2de Pierre van Deventer, ZS6BB, 7 680 punte;
3de Dennis Green, ZS4BS, 420 punte.

5 Watt klas:

1ste André Botes, ZS2ACP, 4 288 punte;
2de Tienie Herbst, ZS6MHH, 1 144 punte;
3de Eddie Leighton, ZS6BNE, 864 punte.

Daar word tans aan die 2010 SARL-kompetisiehandboek gewerk. Voorstelle vir nuwe kompetisies, moontlike veranderings aan bestaande kompetisies en klubs wat graag 'n kompetisie wil reël, word ingewag. Stuur u voorstelle voor 15 November 2009 per e-pos aan die Kompetisiebestuurder na hfcontests@netactive.co.za.
Baie dankie aan die Port Elizabeth ARV wat reeds die opgedateerde inligting oor hulle kompetisies ingedien het.

ZS10WCS – DIE 2010 WÊRELDBEKERSOKKER SE SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE

Vanaf 1 November sal lede van die Noordwes-amateurradioklub die 2010 Wêreldbekersokker se spesiale geleentheidstasie bedryf. Dié roepsein sal oor naweke op die lug wees soos voortplantingstoestande dit toelaat.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Daar was 'n sonvlekgroep gedurende die week sigbaar, maar dié groep is besig om uit die aarde se gesigsveld te draai.
20 en 40 m is die beste keuses vir DX met 10 m wat gedurende die middae wil-wil ontwaak. Gedurende die middae gaan toestande na die ooste en die weste goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande behoort toestande na Europa ook werkbaar te wees. Gedurende die oggende is daar moontlike kanse om kontakte met Australië op 20 m te maak. Kontakte met Nieu-Seeland gaan uitdagend wees. Daar is ook moontlikhede vir 15- en 20 m-kontakte met Brasilië gedurende die laatmiddae en vroeë aande. Gedurende die middae is daar goeie kanse vir 15 m-kontakte met die VSA.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dae op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor langer afstande lewer. Met die somer in volle swang begin 20 m weer van sy glorie te herwin, met die moontlikheid van goeie kontakte oor langer afstande. Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

Novembermaand – ZS10WCS op die lug deur die Noord-Wes Amateurradiolklub;
9 November – sluitingsdatum vir Radio ZS-artikels;
15 November – sluitingsdatum vir 2010 Kompetisievoorstelle;
21 November – Tuiskonstruksiekursus in Gauteng by die NARS;
21-22 November - tweede been van die SARL HF-velddag;
22 November – Integnet met SumbandilaSat as tema;
30 November – sluitingsdatum vir die opstelkompetisie en sluitingsdatum vir SARL se Raadsnominasies.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n ‘PODCAST’-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die redakteur was Jannie, ZR6PHD.
Dankie dat u geluister het, 73.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003